Willy Mathys

Oct 16, 20232 min

Hantam-Stories: Die Glibberige, Vreemde Oom

Dis die begin van die Junie-skoolvakansie in 1964 en Willy Mathys (14) gaan saam met sy pa werk aan ’n bouprojek op die plaas.

Fiktiewe name word gebruik.

Soos gewoonlik nadat dit heelwat gereën het innie Hantam, Karoo en Agter-Hantam, en boere nie meer hoef veevoer aan te koop nie, is daar gewoonlik ook geld vir bouwerk oppie plase. Dit was die patroon waarvolgens baie mense, en veral bouers, innie platteland gefunksioneer het.

***

Dit is Maandagoggend, die begin vannie Junie-skoolvakansie en ek kan saamgaan plaas toe met my pa en sy span werksmense, wat wonder bo wonder volledig is. Daar is ’n redelike groot bouprojek wat moet begin word: ’n windpomp, ’n 20-voet betondam, ’n tenk en twee suip-dammetjies.

Nadat ons almal opgelaai het en my ma en sibbe gegroet het, vertrek ons na ons volgende stop, die ko-operasie. Daar word sement, sinkplate en ander materiaal opgelaai oppie plaasboer se rekening, want na ’n klompie maande sonder inkomste kan my pa nie materiaal bekostig nie. My pa praat mooi mettie bestuurder vannie ko-operasie om ’n paar spoorweg-seile te kry. Want innie winter, veral waar die projek is, aan die voet vannie berg, is komberse nie genoeg nie; ons moet onder daai teer-seile inkruip.

Nadat ons alles opgelaai het moet ons nou nog kos en moontlik ekstra komberse ook gaan koop. By Saamstaan-winkel heel onner innie dorp kan ons kos en klere of komberse koop. Sovêr was daar nog geen betaling vir goedere nie, want die boumateriaal is oppie boer se boekie, en brandstof en die res is op my pa se boekie totdat ons terugkom vannie plaas af. Soms kon my pa darem ’n paar sente overdraft by die bank kry, maar ook nie veel nie.

Net voordat ons vertrek kom ’n pynlik netjies geklede oom na my pa toe aangestap en vra of hy werk kan kry. Na ’n bietjie huiwering omdat die span reeds vol is, raak my pa se hart sag en sê hy dat die oom kan opklim. Aangesien almal mekaar ken in die meeste plattelandse dorpe, is dit bietjie vreemd dat niemand hierdie man ken nie. Ons wil net vertrek toe moet ons hoor dat oom Jasper Louw weggeglip het bottelstoor toe. Dit was nou daai oom se fout, want my pa het mos nie nog drama gevat nie en ons trek da’ weg dat die rook agter die blou Thames-lorrie uitborrel. Die span is mos darem nog steeds vol want die nuwe kerêl, Frits Losper, is mos by.

Tot volgende week.

    0