Ingrid Josephs Vincent

Apr 153 min

Die Khubus Namastap

Updated: Apr 16

Ingrid Josephs Vincent vertel van wat haar ma haar geleer het van die Namataal, dans, en gebruike.

My oorlede ouers, Magrieta en Abraham aka Okkie Joseph met my oudste suster en my enigste broer. Geneem in Khubus.

Deel van my herkoms lê diep in die Richtersveldt - Kuboes/Kubus/Khubus.

Die foto hierbo wys my oorlede ouers, Magrieta en Abraham aka Okkie Joseph met my oudste suster en my enigste broer. Die foto was geneem in Kuboes waar Pappa die skoolhoof was. Volgens die ouer sibbe was dit teen die einde van 1963, voor hulle Eksteenfontein toe getrek het, waar Pappa ’n ander onderwyspos by die plaaslike skool gekry het. Lánk voor my tyd. Ek was nog agter die berg.

Hulle geskiedenis is so ’n lekker storie! My oupa was nie beindruk met die Bolander (inkommer) wat belanggestel het in sy dogter nie. My ma het slegs Standerd 5 agter haar naam gehad, wat opvoeding betref. Na standerd 5 moes die kinders help met die vee (livestock). Die ouers wat dit kon bekostig het hul kinders na die naaste hoërskool gestuur.

My oorlede ma kom van daai deel van die Noord-Kaap. Dit laat my dink aan die Namastap. Daar is geskiedenis en betekenis rondom die Namastap, en sy het dit aan ons verduidelik, maar ek onthou net bietjies hier en daar.  Dan was daar natuurlik ook die rassisme teenoor mense van Nama afkoms. Dit breek my hart! Die feit dat hul nie hul Namataal mag gepraat het nie, maar eerder Afrikaans.

Mamma het ons ook ’n paar Nama woorde geleer, soos byvoorbeeld hoe om in Nama te tel. Wanneer ons daar gaan kuier het, het sy ons geleer van eetbare plante soos suuring, ’n suur plantjie, maar lekker! En dan was daar kraaikos, a bolplant, met ’n neuterige smaak.

’n Mens moet weet hoe die plant lyk om die bol te vind. Ai, mense, as ek en my susters gaan soek vir kraaikos, het hulle altyd die meeste gevind. En hier kom ek, soek, krap in die grond, en as ek wel een gekry het, was dit uitgedroog - nie eetbaar nie. Maar ek het aanhou soek, gekrap in die rooi Namakwalandse grond. Teen daai tyd was my susters al seker pensdik van kraaikos eet. Maar ek het darem een uitgekrap. My dag was dan lekker, want ek sal my nie onderkry nie.

Dan was daar ook bloedpap. Wat my kennis van dit betref, moet ek eers bevestig by die gootmense. Ek moes my niggie in die Oos-Kaap bel om haar ma se nommer te kry. Ongelukkig was die tannie is nie beskikbaar nie.

Vir ons as kinders was dit ’n avontuur om in die rondehuis (ronde huis wat toegemaak is met goingsakke) te slaap. Dan luister ons na die nagdiere se geluide. Ooo, en ook om wit klippe bymekaar te maak en dan kap ons die klippe teen mekaar, om daai vonke te sien.

Ek weet van die rieldans, maar soos ek genoem het, ek is meer bekend met die Namastap van die Richtersveldt. Ek praat onder korreksie, maar ek dink die Namadans van Upington, Namibia, ens, is ietwat anders.

Hieronder is ’n video wat die Namastap van die Richtersveld wys, en onder dit, nog ’n video wat vertel van die geskiedenis van die Namas van die Richtersveld, die jongmeisies wat uitgedans word, en meer.

Oor Namastap en Bloedpap

“Die jongmeisies was uitgedans as hulle vrou geword het. Nadat hulle vir omtrent twee weke afgwsonder was. Ek verbeel my hulle was saam met ’n volmaan uitgedans. Of anders het hulle weer in die volmaan ook gedans. Ek ken glad nie bloedpap nie, maar Danneline Ramsden vertel hulle het dit altyd geëet.” - Sydene Cloete

(As jy nie die twee videos hieronder kan sien nie, wag ’n paar sekondes vir dit om te laai.)

    1