Willy Mathys

Oct 23, 20233 min

Hantam-Stories: Plaas Toe

Willy Mathys vat die storie verder en vertel wat gebeur toe hulle op die plaas aankom om die bouprojek te begin daai Junie-skoolvakansie in 1964.

Hierdie is die opvolg van Hantam-Stories: Die Vreemde, Glibberige Oom, so lees dit eerste.

Die Thames-lorrie waarmee ons gery het.

Fiktiewe name word gebruik.

Ek sit vandag agter op die lorrie tussen die grootmense want Oom Grollie Lukas wat nog taamlik jonk is gee my gewoonlik ’n halwe sigaret om skelmpies te rook. Ek’s nog skaars 13 en hoes dat dit bars want Oom Grollie rook Gold Dollar, ’n sterk sigaret.

Die trip is slegs so 1 uur se ry uit die dorp uit. Oppie plaas aangekom moet ons eers by die boer se huis aanmeld voordat ons die berg invaar waar ons die volgende 3 weke gaan werk. Die boer, Piet Vlok, was ’n groot fris man met min tyd en respek vir mense van kleur, behalwe vir my pa omdat hy darem amper soos ’n witman gelyk het, want sy pa was wit. Gedurende die sestiger en vir baie jare later moes mense van kleur, sonder keuse, die afstootlike woord “baas” gebruik as aanspreekvorm vir witmans en “kleinbaas” vir bogsnuiters seuns. Ek, egter, het eenvoudig net geweier en toe ek skool verlaat, het hierdie hardegat-houding van my die gevolg gehad dat ek twee keer werk verloor het. Alhoewel my pa met sy hoed innie hand by die agterdeur gaan klop het, kom Piet Vlok by voordeur uit. Hy groet my pa sonder om sy hand te skud, want dit mag nie wees nie, jy vat nie aan ’n witman se hand nie.

Terwyl Piet Vlok nog na die lorrie toe kom stap haal almal rondom my hul hoede af en groet soos een man, “môre ‘baas’”, en sonder dat hy terug groet staar hy stip na my oom, Jock Stoffels, my ma se suster se man met lang blonde hare, terwyl hy sy gesig verergelik trek.

“Ou Gert, kom gou hier,” roep hy my pa terwyl hy wegstap. “Wie is daardie ‘jong’ met die blonde hare wat lyk soos ’n witman?”

“Dit is my swaer,” antwoord my pa taamlik verbaas.

“Luister hier ou Gert sorg dat daardie swaer van jou dadelik ’n hoed opsit sodat sy hare nie so waai innie wind nie want net witmense se hare waai so, nie ’n ‘jong’ se hare nie.”

Hierdie gesprek met my pa en Piet Vlok oor Oom Jock se hare en sy amper-witwees, het ek eers baie jare later gehoor.

Nadat ons twee dromme vol water gemaak het en ’n slag-skaap gekry het, vertrek ons verder met Piet Vlok wat voor ons die veld in ry met sy groen Ford F-250 om te wys waar die boorgat is. Daar aangekom, wys Piet waar hy die dam, tenk en suipdamme wil hê. Nadat hy weg is begin my pa en Oom Jan Vlekke die die sirkels van die damme uitmerk sodat fondamente gegrawe kan word. Almal is natuurlik verbaas hoe fluks die vreemde oom, Frits Losper, werk sonder om ’n woord te sê. Terwyl almal besig is kry ek hout bymekaar om vuur te maak vir aandete. Een van die ooms help my om vuur te maak. Ons het twee driebeenpotte saam gebring, een is om kos te maak vir ek, my pa en Oom Jock, die tweede pot is groot genoeg om vir almal water te kook vir koffie. Oom Giel van Rooi slag gou-gou die skaap en daarna word gevlegde derms en lewer oppie kole gegooi vir aandete.

Teen die tyd dat die groot dam se fondamente klaar is, is die braaikos ook gereed en almal smul heerlik aan die derms, lewer en bakbrood. Na die etery moet ek die bed gaan gereed kry met ’n seil oppie grond, dan komberse, en die spoorweg seil heelbo. Dit is bitter koud daardie nag maar die dik seile hou die koue uit.

Toe ek wakker skrik die volgende oggend, brand die vuur reeds en die potte met water en pap is aan die gang. Vandag begin ons die windpomp aanmekaar sit en diep gate word gegrawe vir die pote. Die vreemde oom werk onophoudelik en beïndruk my pa verskriklik.

Volgende week: die nagtelike drama met poeliese.

Tot volgende week.

    0