Wendy Anthonie

Apr 152 min

Knieë En ’n Geen-Knie Broodjie

Wendy Anthonie vertel hoekom hierdie geen-knie broodresep perfek vir haar werk.

Knap voor my 60ste verjaarsdag het my knieë my hels gepla. Die afsak en opkom was soos selfkastyding. Wanneer ek vloere geskrop het, moes ek sommer alles wat op gronvloer was klaarmaak, want as ek eers op was, was dit ’n proses om hulle weer te buig.

Kleindogter was vir jaar oud en het my altyd geselskap gehou wanneer ek plat op my alie op die vloere rondgeskuifel het. Ek het een oggend baie pyn verduur en bid toe hard en innig.

“Met my God loop ek ’n bende storm - spring ek oor ’n muur...!” Klein Xarah wat ten aanhore was, fluister toe in my oor: “Wat van ouma se knieë?”

Hmmmm, dink ek toe. Ek sal maar diekant van die muur bly en die bendes met die Engele se hulp aandurf.

“Every knee shall bow and every tongue confess...” lui die teksvers en koortjie. My knieë pla al vir jare nie meer nie, maar ek skram steeds weg van enige onnodige knie buigery. So, ek wonder of Hy sal verstaan as ek net ’n kopknip kan gee soos vir die royalties? ’n Curtsy sal ook nie werk nie, want die knie moet steeds buig.

Ek deel vandag die geen-knie broodresep. Dit werk baie lekker, en wel met betrekking tot die Artritis-hande. Daar’s geen geknie nie.

Ek was 12 jaar oud toe ek en ousus my ma wou verras met ons eie gebakte brood. Alles het volgens plan verloop. Ons hande was skoon geknie soos ons geleer is en die deeg het onder die grys, broodkombers gehyg en gerys (of het dit?).

Die brood was mooi bruingebak toe ons dit uithaal, maar liewe aarde - dit was so swaar soos ’n baksteen! Ons het 2 snye met moeite afgesny en vir pa met brood en koffie bedien. Ons het deur die kantgordyntjies van die kombuis na buite geloer waar hy in die skaduwee van die Soetdoringboom gesit het.

Hy het die eerste snytjie in sy koffie gedompel, uitgehaal en wèèr ingedruk. Met die derde probeerslag het hy met ’n skewe kop soos ’n trapsuutjie na ’n vlieg kyk na die brood in sy hand geloer. Die brood se tekstuur was sò dig, dit het verseg om sag te word! Ons kapokkies het toe maar die kluitjierige broodbederf geniet!

Geen-Knie Broodjie

Bestanddele

  • 3½ koppie meel

  • ¾ pakkie kitsgis

  • 2 koppies louwarm water

  • 1 teelepel sout

Metode

  1. Meng die droë bestanddele in ’n bak. Voeg die water by en roer goed deur met jou houtlepel.

  2. Skep die beslag in ’n gesmeerde broodpan. Laat rys.

  3. Bak tot die broodjie hol klink. Ek het sade opgesit (want die lewe is kort).

    0