Wendy Anthonie

Jan 152 min

Souttert, Soene, Gekkigheid En Geskiedenis

Wendy Anthonie vertel van geskiedenis, gekkigheid, en soene, en gee ’n resep vir Souttert A Là Wendelz.

Op hoërskool het ek Geskiedenis in Std 9 gelos vir Bedryfsekonomie. Waarom moes ek leer van ander lande se oorloë, die skandes en skades van konings en boonop honderde datums onthou?

Was Netflix en Showmax egter in die rondte gedurende die sestigerjare sou ek met elke eksamen met 100% geslaag het. Filmmakers romantiseer deesdae die geskiedenis met briljante flieke. Stories word sò lewensgetrou oorgedra dat jy name, gebeure en datums sonder moeite onthou.

Ek het begin kyk na die reeks, The Empress wat afspeel gedurende die Napoleaanse tydperk. Groot was my teleurstelling toe ek aan die einde van episode 8 moes uitvind dis die einde van Seisoen Een!

Ek het my vriend Google ingeroep. Seisoen Twee kan maar wegbly. Binne 5 minute het ek alles gelees oor Keiser en Keiserin Franz en Elizabeth Joseph en weet ek hoe die nuwe seisoen daaruit sal sien. Ek is steeds in vervoering oor dit wat ek nou weet van Elizabeth wat op 16-jarige ouderdom met die 23-jarige, Keiser Franz Joseph getrou het.

Keiserin Elizabeth was behep met haar lang hare waaraan haar kamermeisies tot drie ure per dag gewerk het. Om haar figuur te behou was sy op ’n ewige dieët van dun sop. Haar middeltjie was ’n kleine 50 cm in omtrek. Ek het myne gemeet en wou van skok flou val, maar onthou toe dat ek wèl in die sewentigs met sò 'n klein middellyfie gespog het. Elizabeth se stapelkos in later jare was net koeimelk, eiers en lemoene. Sy het rondgereis met haar eie koei!

Soene? Keiser, Franz Joseph was gevrek en sonder ’n greintjie humor, maar soen kon hy soen, aldus Elizabeth! My eie Romeo gee nà 49 jaar saam, steeds getrou die oggend, koebaai- en koenaait soentjies. Dis net dat sy angle deesdae bietjie uit is. Dis meer soos ’n briesie wat oor my wange en lippe waai sò vinnig is dit. Vanoggend het ek hom op die bed platgetrek soos Siya Kolisi en behoorlik gesoen. Toe die skok wegvloei kon ek sien hoe die ligte in sy oë aanknipper!

Met die son wat vandag baldadig was het ’n werklus my beetgekry en het ek tot my Hart potte ’n bietjie beblink met staalwol en sunlightseep soos my ma! Die ander lus was vir ’n ligte middagete. Ek’t die onderstaande tert prakseer met die bietjies en stukkies wat in my yskas was.

Souttert A Là Wendelz

Bestanddele

  • 1 ui, fyn gesny

  • 1 pak spek, fyn gesny (daar was reeds 2 repies weg)

  • ½ groenpeper, fyn gesny

  • ham, fyn gesny (pakkie maak so 2 koppies)

  • 1 koppie Cheddarkaas

  • sout & peper, na smaak

  • 1 handvol gekapte pietersielie

  • 80 ml bruismeel

  • 4 eiers, geklits

  • 375 ml melk

Metode

  1. Braai die ui, groenpeper en spek tot gaar. Laat effens afkoel.

  2. Voeg die ham, kaas en pietersielie by. Strooi die meel, sout en peper oor en roer deur.

  3. Klits die melk en eiers saam en gooi bo-oor.

  4. Bak in jou gunstelingbak vir 30 minute of tot gestol en goudbruin.

  5. Ek het ekstra kaas oorgestrooi omdat die lewe kort is!

  6. Garneer en bedien met ’n slaai en liefde.

    0