Wilma Paulse

Jul 17, 20233 min

Stil, Broers, Die Antie Bak ’n Brood...

Wilma Paulse vertel ’n broodstorie oor Ouma Appie daar van Vaalkoppies.

“My naam is my eer en my eer is my karakter”, het my Ouma Appie daar van Vaalkoppies vir haar familie gesê, terwyl sy twaalf brode in panne pak om te gaan bak innie buite-oond daar naby die groot nxooi boom oppe warme Vrydagmôre. Soos elke ander Vrydagmore. Sy het die brode gebak in broodpanne wat haar man, my oupa, vir haar gemaak het.

Ouma Appie het doodgewone suurdeegbrood, wat deesdae baie populêr is en mense kursusse bywoon om die proses te leer, elke week gebak. Hulle noem dit in Engels “sourdough”. Dis, soos ek dit verstaan, suurdeeg en als begin met ’n starter wat jy moet vertroetel soos ’n vars babatjie. Dis daai einste suur mengsel wat Ouma Appie in ’n bakkie innie kombuis aangehou het, somtyds selfs ’n aartappelsuurdeeg en sy het dit onder die anties uitgedeel soos die behoefte ontstaan het.

Jy sal my weer kom sê as jy in ’n kombuis is met ’n kolestoof terwyl die kwik buite 45 ˚C is.

Die reuk van daai suur mengseltje in ’n bakkie op ’n koelerige plek iewers in die kombuis was destyds glad nie aangenaam vir my nie. Daai reuk het jou in die gesig geslaan elke keer as jy kombuis toe moet gaan om die vuur te stook vir die binne-oond Dover stoof. Jy sal my weer kom sê as jy in ’n kombuis is met ’n kolestoof terwyl die kwik buite 45 ˚C is. Nie eers die duiwel sal daarvoor kans sien nie en ouma Appie het gesê dis hoekom die mense Kalahari toe gestuur is. Die dag as die streek se mense hel toe gaan moet hulle hul eie komberse saamvat, so warm raak dit daar.

So was daai deeg dan geknie in ’n groot liggroen erdeskottel, hier en daar afgenerf as gevolg van jare se gebruik en gemaak staan onder ’n stuk flennielap sodat dit kan rys. Twee keer word daai deeg afgeknie. Teen die tyd dat die panne met vet gesmeer is, is daai deeg se tekstuur net reg vir afbak.

Die buite-oond se kole moet gereed wees vir die brood om ingesit te word. Met ’n kruiwa word die broodpanne gestoot tot by die oond en met ’n lang spaander, spesiaal ook gemaak vir die doel, een vir een in die oond gepak. Dan word daai oond se deur pot-toe gemaak met ’n nat goingsak en almal staan trug met ’n dankbare hart, natgesweet van die koel 30 ˚C Kalahari-oggend en almal kon eers gaan rus en wag vir die brood om klaar te bak.

So het sy dit verduidelik vir Antie Elling (ek vermoed dit was eintlik Antie Ellen, maar wie worry nou oor ’n naam as daar brood gebak word) as sy vir Ouma Appie iets oor die vaalkroek se mense kom vertel het...

“My naam is my eer en my eer is my karakter”, het Ouma Appie gesê terwyl sy op die buite-bed gesit en wag het vir die brood om klaar te bak. So het sy dit verduidelik vir Antie Elling (ek vermoed dit was eintlik Antie Ellen, maar wie worry nou oor ’n naam as daar brood gebak word) as sy vir Ouma Appie iets oor die vaalkroek se mense kom vertel het, en dan weer hande agter die rug trug na haar eie huis gestap het. Antie Elling se huis het ’n ringmuurtjie rondom die gekraakte stoep gehad; ’n stoep wat heeltyd na kerswas geruik het. Haar huis het nooit na kos geruik nie. ’n Stil, donker maar koel huis… sonder lewe of ’n warm stoof. Haar kinders het glo in die Kaap gaan bly. Pitrette van oumense in bruin fotorame wie niemand ooit van gepraat het nie het daar op haar mure gehang.

As daai brood uiteindelik klaar gebak het kom Antie Elling eers weer terug, hande agter die rug met ’n groot wyerand hoed op om haar brood te kom haal, en dalk ’n paar adamsvye as my oupa vrygewig voel daai dag. Ouma Appie is nie wederstredig, soos haar ou man beweer nie, maar deel daai dag die twaalf brode uit. Kêrelman, haar oudste seun, kry syne vir sy huis, Klimmeid kry haar twee en Ant Seloen kry ook ’n brood. Ouma Appie stuur twee brode boonste kroek toe vir die mense wie so swaar kry.

“My woord is my eer en my eer is my karakter,” het Ouma Appie saggies vir haarself gesê voor sy die brode in bruinpapier toegedraai en die kinders gestuur het om dit af te gaan lewer. Sy het die mense immers ’n brood gebloo… en die wat nie kry nie kan altyd bietje suurdeeg kom haal.

    1