Wilma Paulse

Dec 18, 20236 min

’n Toeroeroe Krismis - Deel 3

Koekie se Jayden kom uit die tronk uit voor Krismis! Hoe moes hy geweet het dat hy gesteelde parfuum verkoop? Geskryf deur Wilma Paulse.

Lees eers Deel 1 en Deel 2.

Koekie is die blyste. Sy het net vandag gehoor dat haar Jayden voor Krismis uit die tronk gaan kom. Hy moes mos vir ’n paar maande innie vier hoeke gaan sit het en dit net oor hy gesteelde parfuum verkoop het. Dis so onregverdig, voel Koekie. Hoe moes hy geweet het sy plug het die parfuum gesteel, hy het dit mos net verkoop en so het hy vir almal duur parfuum ge-organise, en toe sowaar loop piemp iemand hom!

Die mense in hulle se lokasie is maar so jaloers, weet Koekie. Kan nie sien dat anner mens vorentoe gaan innie lewe nie. Dis oor haar Jayden so ’n oop mens is. Hy lag en gesels kliphard met almal en hy ken die hele woonbuurt se mense. As hulle innie dorp loop stop almal hom om te gesels. Van kleinsaf was hy maar so praterig en happy-go-lucky, altyd reg met ’n dans performance of ’n joke om die mense rondom hom op te beur.

Sy sal daai mens nooit vergewe wie vir Jayden gaan piemp het by die poeliese nie. Toe hulle weer sien toe staan die cops voor die huis en sy’t nie eers kans gehad om die bokse parfuum weg te steek nie. Hulle het vir Jayden en die parfuum daai tyd saamgevat en die hof het hom vir paar maande vier hoeke toe gestuur.


 
Sy het getrou elke Sondag agtermiddag vir hom gaan kuier en haar hart kon dit nie hou om haar kind so te sien tussen al daai kriminele nie. Jayden is nie ’n slegte mens nie, hy is net ’n organiser. Hy het ’n connection vir alles en dit het hy by haar geleer. Van kleinsaf het hy saam met haar geloop as sy moes hustle vir kos oppie tafel of enigiets anners. Sy’t hom geleer om planne te maak, al is daai plannie nie altyd honderd persent volgens die boek nie.
 

Koekie beplan om die Desember vakansie ’n braai te gooi as Jayden huistoe kom, spesiaal net vir hom sodat hy al sy vriende kan nooi. Sy’s net bly Trooi werk ook nou en hulle twee kan die kos organise en hulle gesinne kan selfs Krismis saam geniet. Die braai is spesiaal net vir Jayden. Met kwaai musiek en lekker kos kan ’n mens vêr kom tydens die groot dae. Sy’t reeds jarre laas ’n paar langarm steps gegooi en haar man is ’n yster met ’n Quickstep! Sy sien hulle al klaar paar draaie en swaaie gooi oppie stoep.


 
Sy sal met Trooi moet reël watter dag hulle twee gaan koekies bak vir die Groot Dae. Sy het met verloop van tyd al klaar ekstra meel, suiker, en bakspeserye bymekaar gemaak en sodra haar krismis hamper kom kan hulle begin bak. Die jaar kry hulle ’n hele skaap en ’n sak hoenders as deel van hulle hamper. Sy’t ook klaar ’n connection vir tong en gammon by iemand wat by die slaghuis werk. Koekie weet as Jayden eers by die huis is, sal hy sorg dat hulle krismisklere ook het en dis net name brands, net als vannie beste want hy sal nie laybuy klere dra nie. Hy dra net name brands, party name het sy nog nooit eers van gehoor nie. Haar worries oor ’n laybuy saam met Trooi is verby en hulle twee het klaar iets neer gaan sit vir hulle se tekkies. Al wat sy met Trooi moet bespreek is die braai se goed…


 
Trooi skud maar net haar kop en stem saam met Koekie om nie haar vriendin se entoesiasme en gees te demp nie. Koekie is vreeslik opgemaak dat Jayden voor Krismis vrygelaat gaan word. Trooi weet Koekie se man, die lektrieshen is nie ’n prater nie en sal dan en wan by Willem kom sit, maar hy bly maar stil as Koekie en Jayden so geraas maak by hulle huis. Hy sit maar buite onner die perskeboom as hy nie werk nie. Koekie likes van harde musiek speel oppe Saterdagoggend met daai hifi-ding wat Jayden ge-organise het. Trooi kon nooit verstaan hoe Jayden altyd die beste klere en tekkies kon dra nie want hy’t nog nooit gewerk nie. Koekie se hy spien as sy haar daaroor uitvra. Soos sy verstaan koop en verkoop hy goed, dis sy job, dis wat spien beteken.


 
Haar dinge staan ook na ’n kant toe. Sy het nog niks vir Willem van die Die Man gesê nie want sy wil tog net nie nou haar skrop verloor nie, veral nie nou dat Die Meddim so vriendelik is met haar nie. Sy’t haar selfs gevra of sy saam met haar vrugtekoek sal bak en Trooi het ingestem. Bestanddele vir vrugtekoek is baie duur. Sy kan dit nie bekostig nie, maar haar ma het haar destyds geleer hoe om dit te maak.

Selfs die skroom seun van Die Meddim met sy swart outfits en lang hare kom ook deesdae uit die huis uit as hulle buite is en het selfs met haar dogter Bonita begin gesels. Hy gaan na ’n privaatskool oppie dorp en nie by die plaaslike skool soos Bonita nie, so hy het nie regtig vriende in hulle lokasie nie. Trooi en Willem het Bonita aangeraai om hom aan haar ander vriende voor te stel sodat hy nie so alleen deur die lewe gaan nie. Hy lyk darem maar vir haar wat Trooi is te aardig met net die pikswart klere en lang hare wat so in sy oë hang, met nooit ’n smile op sy gesig nie. Bonita sê hy’s baie slim en weet vreeslik baie wat innie wêreld aangaan. Hy helps selfs deesdae vir Bonita om van haar take te print en navorsing te doen oor skoolwerk.

Trooi en Willem is bly oor die las wat van hulle skouers af is en hulle is immers familie, herinner Willem hulle altyd. Trooi werk ekstra hard by Die Meddim om seker te maak sy bly tevrede met haar werk en dat sy haar dalk die volgende jaar permanent kan aanstel. Dalk kan hulle ook hulle eie huis begin huur as sy ’n vaste inkomste verdien. Maar een maand oppe slag, vermaan Trooi haarself gedurig.


 
Die enigste ding wat haar nog steeds pla is Die Man. Hy sê nie veel nie, maar bly kyk na haar as sy besig is innie huis. Hy kom ook deesdae sommer innie middel van die dag huistoe toe om te kom eet en dan moet sy vir hom iets voorberei. Sy wens partykeer dat sy die lekker kos vir Willem kon voorberei wat die man so smaaklik geniet, en hy het al telkemale laat val dat sy vrou nie juis kan kook nie. Trooi het net niks gesê nie en aangegaan met haar werk. Trooi maak ook deesdae seker daars iets vir die seun om te eet as hy van die skool af kom.

Elke week gee Die Man haar nou ietsie ekstra en elke week is dit ’n bietjie meer, behalwe die pay van Die Meddim af. Trooi wou eers nee dankie sê maar daai ekstra sente maak baie gate toe, so sy vat dit maar. Sy sê egter vir Willem niks daarvan nie... hy sal sê sy moet dit trug gee of, liggelowig so hy is, glo mos net almal het ’n goedgeid in hulle, dat hy sommer Die Man se kar verniet sal gaan was. Met daai ekstras betaal sy haar en Willem se tekkies af en sy sit die anner weg vir kersgeskenke vir haar tjinners.

Koekie bly haar herinner aan wat sy gehoor het van Die Man, maar Trooi maak dit af as net kroekstories. Mense is maar net jaloers, het Koekie dit nie self gesê nie? Miskien is Die Man net vriendelik, al is hy vriendeliker met haar as met Willem. Met Willem staan en praat hy bene wyd uitmekaar en arms oor sy bors gevou en Willem lyk altyd asof hy wil spring sodra die man begin praat. Willem hang aan Die Man se woorde oor sy groot en baie verantwoordikhede by sy werk, hy weet natuurlik dat Willem nog nooit sy voete in ’n raadsaal gesit hettie en lieg dalk nog, maar Willem glo alles en hy dink net die beste van die man. Dit grief Trooi. Sy wil nie hê Willem so moet klein raak voor Die Man nie, al is mens arm moet jy nog steeds jou trots het.


 
Toe Trooi die middag klaar gewerk het en by die zozo instap, sit Bonita en swartklere-seun by hulle mankolieke tafel en skoolwerk doen. Dis die heel eerste keer dat een van hulle innie zozo kom en skielik voel Trooi skaam oor hulle karige bestaanswyse. So trots soos sy is, voel sy asof hulle nog niks innie lewe bereik het nie, veral nie nou dat sy gesien het hoe hoog-gekleurdes eintlik lewe nie.

Op daai oomblik besluit Trooi dat sy enigiets sal doen sodat haar Bonita nie haar vriende op ou weggooi stoele moet laat sit as hulle vir haar kom kuier nie.
 

    0