Willy Mathys

Feb 123 min

Wat Gaan Met Jock Heemstra Aan? Deel 2

Voordat Jock homself kan keer groet hy vir Amina wat die hek vir hom oopmaak. Hy besef dat dit die eerste keer in sy lewe is wat hy ’n persoon van kleur gegroet het. Geskryf deur Willy Mathys.

Lees eers Deel 1.

Een Saterdagoggend vroeg word Jock so rondom 4:00 wakker en kan net nie weer aan die slaap raak nie. Dit is noual vier weke sedert Joseph Langston Engeland toe vertrek het en Jock het sovêr al Langston se opdragte uitgevoer.

Iets omtrent Amina pla hom egter vanoggend. Vir die eerste keer is daar iets wat hy nie met sy vrou Milly of met enigiemand kan bespreek nie. Hy is half bang om dit in woorde aanmekaar te sit.

Nadat hy heel paar keer rond gerol het staan hy net so na 5:30 op en steek die primus-stofie aan maar vanoggend neuk die brass affêre. Dis net ’n sporadiese opvlam en dan weer buitengewone geraas. Jock soek ergelik na die pricker want die nipple is vuil en die pricker kan daai regstel. Die primus raas in elk geval wanneer hy reg brand want dit is ’n harde kop.

Alhoewel Jock maar min respek toon virrie vroulike geslag maak hy tog seker dat hy die primus weer mooi skoonmaak na die brandmaak-drama want Milly is ’n pynlik netjiese persoon en kan nogal bietjie gal afgaan as dié stuk kosmaak-toerusting vuil is.

Tot Milly se verbasing gee Jock vir haar vanoggend koffie met ’n snytjie brood. Dit het nog nooit gebeur nie. Hierdie optrede van hom slaan haar heeltemal dronk en bring ’n gevoel van vreugde in haar vir die eerste keer in jare.

Jock, aan die ander kant, sê nie ’n woord nie en kan self nie verstaan wat nou aangaan nie. Dit maak hom nogal bietjie ongemaklik want mans maak nie vir vrouens koffie nie en hulle maak ook nie kos nie.

Hy werk vandag, maar begin eers 9:00, daarom maak hy eers die plante oppie stoep nat, en gee die hoenders, eende en die twee brakke kos. Nadat hy vir Milly gesoen het en die ses kinders wat nog slaap op hulle koppe gesoen het, klim hy oppie fiets en ry poeliesstasie toe om aan te meld en sy boeie en batton te kry.

Hy gesels nog so ’n paar woorde met ou Skroewedraiwer Rossouw met die uniform wat altyd half skeef sit voordat hy op sy rondtes begin. Nadat hy by Wittebome stasie vinnig inspeksie gedoen, is sy volgende stop Joseph Langston se huis.

Amina is reeds buite besig om die vensters te was. Toe sy vir Jock raaksien kom sy baie onderdanig nader en sê, “Good morning, master Jock”. Voordat Jock homself kan keer groet hy vir Amina wat haar halfdood skrik. Sy maak die hek oop sodat hy kan inkom om te kyk dat alles in die haak is.

Jock besef skielik dat hy vir die eerste keer in sy lewe ’n persoon van kleur gegroet het en voel eindelik bietjie verleë want hy was nie so grootgemaak nie. Sonder om egter totsiens te sê klim hy op sy fiets en voltooi sy rondtes met baie gemengde gevoelens.

Oppad huistoe gaan hy weer by die bottelstoor aan. Hy sluk sy woorde in toe hy byna vir Koos Kouter wat vir hom wag om sy wyn te koop, ook groet.

“Hoe gaan dit vandag konstabel?” wou Jack Levine weet.

“Mister Levine ek is okay,” antwoord Jock. “Ek wil net bietjie gaan rus want ek het min geslaap,” vertel hy verder.

“Waarom kan jy nie slaap nie, konstabel?” wou Levine weet.

“Mister Levine, dis seker maar my bekommernis oor geld vir my kinders se skoolklere,” lieg Jock en vat sy bottel brandewyn en Koos Kouter se sesbottel-kan Vaal Japie en ry stadig huistoe met baie worstelinge.

Lees volgende week verder.

    0