Mary is deurmekaar en probeer sin maak van wat nou aan die gebeur is. Waar is Barry, is dit hy in die ambulans en hoekom is hulle op pad hospitaal toe? Geskryf deur Wilma Paulse
Lees eers Hoofstuk 7.
Mary sien ’n glimps van die ambulans wat om die hoek ry net toe sy in hulle straat afry. Verbeel sy haar of is dit haar suster se kar wat agter die ambulans aanry?
Toe sy by die hek inry sien sy haar ouers buite op die grasperk staan, haar ma se hande vasgeknyp voor haar asof sy staan en bid. Paniek kry Mary onmiddelik beet en sy spring sommer uit die kar uit.
Haar pa stop haar nog voor sy by hulle is en vat die kar se sleutels by haar.
“Kom ons moet hospitaal toe gaan. Barry is nie lekker nie, ek sal jou vertel terwyl ons oppad hospitaal toe ry,” beveel hy met die outoriteit van die afgetrede skoolhoof wat hy is. “Mammie sal by die huis bly en die seuns by die skool gaan haal en versien.”
Mary is deurmekaar en probeer sin maak van wat nou aan die gebeur is. Waar is Barry, is dit hy in die ambulans en hoekom is hulle op pad hospitaal toe?
Toe hulle wegtrek van die huis af is haar pa onmiddelik aan die woord. Mary se suster het geweet dat sy die dag af is en wou gou kom koffie drink, maar toe sy by hulle huis kom was daar niemand nie, maar die agterdeur was oop.
Toe sy inkom het sy gesien dat Barry bewusteloos op die kombuisvloer lê met ’n koppie tee stukkend langs hom. Na sy telkemale vir Mary probeer bel het, het sy uiteindelik hulle ouers gebel en haar pa het die ambulans laat kom.
“Wat gaan aan met Barry, is hy siek?’, wil haar pa by Mary weet. “Hy is jou man jy moet weet wat aangaan,” sê hy toe Mary haar kop ontkennend skud. Sy het nie woorde nie, en voel soos ’n absolute slegte vrou. Sy sit en koffie drink terwyl haar man siek is! Mary voel hoe die trane in haar oë opdam maar sy probeer dit ongesiens wegvee.
“My kind jy moet sterk wees vir Barry, ons sal nou hoor wat aangaan,” druk haar pa haar hand vas terwyl hulle hospitaal toe ry. Mary voel die bekende, gerustellende hande van haar pa maar hy ry te stadig volgens haar. Sy wil by die hospitaal uitkom, sy wil nou by Barry wees.
Toe hulle by Ongevalle se deur instap daag Barry se broer en ma ook op dieselfde tyd daar op. “Ek het hulle laat weet,” sê haar pa want hy weet dat sy en Barry se broer nie ’n goeie verstandverhouding het nie. Barry se broer, Evan, het nog altyd gedink sy hou haar beter as hulle familie want sy wou nooit saam met hulle spesiale dae vier by hulle huise nie. Sy wou dit altyd, op haar terme, by haar eie dubbelverdiepinghuis hou waar sy in beheer van alles kon wees. Daar by hulle huis is ’n groot swembad en patio, en meer as genoeg spasie as sy broer se beknopte huis, was haar verweer altyd as Barry aandring dat hulle ’n Kersfeesete of iets by sy familie moes vier.
Oor die jare het die verhouding tussen Mary en haar skoonfamilie versuur en sy het hulle maar min gesien. Haar seuns ken ook nie juis Barry se familie nie, net as hy hulle saam sou vat om by sy broer te gaan kuier.
Sulke kuiers het Mary altyd ontstel want Barry het altyd bietjie swaaiboude en vreeslik “happy” terug gekom van hulle af. Hy sou altyd beweer dat hy en sy twee broers net “bietjie stout” was en te diep in die bottel gekyk het. Hulle sou die volgende dag nie eers daaroor praat nie want Mary sou dit nie entertain nie en Barry sou haar die heeldag vermy.
Vir haar was dit altyd te “low class” om by ’n huis te sit en drink. Sy het verkies dat hulle by ’n restaurant gaan sit en ’n wyntjie geniet, nie die huispaarties waar almal later in ’n kring dans en hardop skree en lag nie. Barry was ook te uitspattig volgens haar as hulle by sy familie gekuier het en was gewoonlik die een in die middel van die kring wat almal met sy snaakse moves vermaak het. Barry se ma is ook effe kil teenoor Mary toe sy haar groet, alhoewel sy nog altyd tegemoetkomend teenoor haar was.
Toe Mary by Barry se bed kom kan sy sien dat hy ’n bietjie deurmekaar lyk. Hy lyk ook sommer skielik baie siek en Mary kan die trane nie keer nie. Haar suster druk haar ’n bietjie vas en verduidelik dat hulle vir Barry met iets ingespuit het om die pyn te beheer en dat dit hom lomerig gemaak het. Hulle is ook besig om bloedmonsters te neem en nog meer toetse te doen.
Toe sy Barry se hand vasgryp, smile hy net effens met haar maar sy kan sien hy sukkel om sy oë oop te hou. “Rus maar eers Bokka ons kan later praat,” stel Mary hom saggies gerus op sy troetelnaam. “Ek gaan nêrens nie, ek bly net hier langs jou.” Toe Barry weer sy oë toemaak wys haar suster haar dat die dokter met haar wil praat en sy stap saam met hom na ’n leë kamer langsaan.
“Ek is dokter Loubser en ek’s ’n onkoloog. Ek is Barry se dokter,” stel die dokter homself aan haar voor. Sy let onmiddelik op dat hy ’n onkoloog is en haar hart word yskoud.
“Weet jy wat met jou man verkeerd is? Het hy jou gesê van sy kondisie?”, wil die dokter by haar weet. Mary kan net haar kop skud. Nee, sy weet niks, moet sy erken. “Barry het kolonkanker”, hoor sy ver weg die dokter sê.
“Dit lyk asof hy bloeding gehad het en hy moes baie erge pyn die vorige aand ervaar het, soveel so dat hy uiteindelik bewusteloos geraak het vanoggend van die pyn,” verduidelik Dr Loubser verder.
Mary hoor niks meer nie, die woord kanker weerklink oor en oor in haar kop. Barry het kanker, hy het kanker, haar man het kanker… Mary kan net verslae na die dokter staar. By die deur sien sy vir Evan en haar pa staan, hulle het ook gehoor wat die dokter gesê het. Evan stap die kamer binne en vinnig op haar af.
“Jy’s sy vrou en jy weet nie eers my broer is so siek nie! Watse tipe vrou is jy?”, skreeu hy op Mary wat sonder enige verweer net daar sit. Haar pa vat hom aan sy arm om hom te kalmeer.
“Dokter wat moet nou gebeur?”, neem haar pa beheer oor die situasie. “Kan die familie asseblief saam na my spreekkamer toe kom?”, sê Dr Loubser. “Die pasiënt se welstand is nou van belang so geen stryery nie.”
Mary se pa en suster vat haar aan die arms en hulle stap saam met die dokter na sy spreekkamer verder af in die gang. Evan loop heel voor, met sy ma aan sy sy en trane wat oor haar wange loop.
Toe hulle almal in Dr Loubser se spreekkamer is verduidelik hy dat Barry al agt maande gelede met kolonkanker gediagnoseer was en tans besig is met chemoterapie. Die skielike bloeding het veroorsaak dat hulle so gou moontlik sal moet opereer om te sien wat die bloeding veroorsaak het en hoe ver die kanker versprei het. Mary skud haar kop bevestigend en stem saam dat die dokter en sy kollegas alles doen wat hulle moet en kan doen vir haar man.
“Maak hom net beter asseblief”, smeek Mary die dokter. “Ongelukkig kan ek niks belowe nie, maar ons sal als gereed kry sodat ons nog later vandag kan opereer. As jy net hierdie vorms kan invul asseblief.” Met bewende hande teken Mary die vorms, maar dis asof alles in ’n waas gebeur.
Dit is als te veel vir Mary om te prosesseer. Net die vorige aand nog het hulle twee op die agterstoep gesit en sy het met haar kop op Barry se skouer gesit, salig onbewus dat haar man so ’n vreeslike groot las op daai selfde skouers het. Mary kan die trane net eenvoudig nie keer nie, en sy voel haar pa se hande wat oor haar skouers vrywe soos sy tussen die trane deur die vorms probeer invul.
Mary se hart voel letterlik asof dit saamtrek van die pyn wat sy ervaar. Die seuns is dan nog so klein, dit kan tog nie met hulle gebeur nie, probeer Mary sin maak. Toe sy effens bedaar het en Barry in ’n privaatkamer geplaas is, kan sy weer by hom gaan sit. Sy sien hoe Evan besig is op sy foon, seker besig om die res van die familie te laat weet. Sy weet nie waar haar suster en skoonma is nie.
Sy gaan sit by Barry terwyl hy slaap en sy let skielik op hoe lanklaas hy geskeer het, amper sodat sy nie kon sien hoe maer hy geword het nie. Sy lig die beddegoed op en streel or sy bene wat skielik vir haar soveel dunner lyk en voel. Die ylheid van sy hare lyk nou nog erger noudat sy kop so weerloos op die wit hospitaalkussing lê.
Hoe het sy dit als gemis?
Lees volgende week verder.
コメント