top of page

Hertzoggies

Die lekker klapper-meringue en appelkooskonfyt-vulsel maak hertozoggies ’n staatmaker wanneer gaste kom kuier.



My ma was ’n baie goeie kok, bakker en naaldwerkster. Daar was nie ’n resep of gereg wat sy nie kon maak. Sy het die vermoë gehad om na ’n foto van ’n gereg te kyk en dit dan presies net so te maak. Sy kon ook proe wanneer ’n resep nie gevolg was nie, of wanneer ’n bestanddeel uitgelaat was. Dis net ’n jammerte sy het in die verkeerde era grootgeword, want sekerlik sou sy haar eie suksesvolle besigheid gehad het as gevolg van haar kook- en bakvernuf.


Gou het sy ons dorp se gunsteling-bakker geword, want mense het van die omliggende dorpe koek by haar bestel. My ma was baie trots op haar werk as bakster en huiskok. Sy het geglo jy dis nie skewe en misvormde koeke aan ander op nie. Ook nie onsmaaklike kos nie. Soms was sy ’n regte kossnob, en ek sê dit met die grootste respek. Dit was haar manier om slegs haar beste vir haar kliënte te gee.


Die hertzoggie-resep is hare, asook die pannetjies waarin dit gebak is.

Hertzoggies

Surita Riffel Maak 30

Bestanddele

  • 500 ml bruismeel (self-raising flour), of 500 ml koekmeel en 10 ml bakpoeier

  • Knippie sout

  • 125 g botter of margarien

  • 30 ml suiker

  • 3 ekstragroot eiers, geskei

  • 2 eierwitte

  • 50 ml water

  • 10 ml vanieljegeursel

  • fyn appelkooskonfyt

  • 200 ml suiker

  • 500 ml droë klapper


Metode

  1. Voorverhit die oond tot 170° C.

  2. Sif die meel en sout saam. Vryf die botter by die meelmengsel in. Voeg ook die suiker by.

  3. Voeg dan die eiergele, water en vanieljegeursel by en knie liggies. Laat staan vir ’n rukkie.

  4. Intussen, klits solank die 3 eierwitte waarby jy nog 2 eierwitte voeg, styf. Voeg dan die suiker en klapper by en vou liggies in. Moenie te veel roer, want dan roer jy lug uit die mengsel.

  5. Rol nou die deeg uit, druk dan sirkels uit en plaas in ’n gesmeerde pannetjie. Plaas bietjie appelkooskonfyt in die middel van die deeg, gevolg deur ’n eetlepel klappermengsel wat jy bo-op plaas. Dit moenie meng met die konfyt nie, skep dit net bo-op.

  6. Bak vir omtrent 20-25 minute.



0 comments

Related Posts

See All

Komentarze


bottom of page