Vroedvroue is deel van baie van ons se komvandaan. Antie Trooi Kaswari van Sanddrift in die Noord-Kaap se Richtersveld het haar storie aan ons vertel.
Geskryf deur: Leanne Feris. Foto: Loretta Feris
Lees Nog Vroedvroue Se Stories
Antie Trooi Kaswari, Sanddrift
Antie Trooi is net so ervare. Sy vertel van die verskillende maniere om nageboorte te laat afkom, onder meer met ’n aftreksel van gammagoe.
“Die gammagoe is ’n soort plant wat soos ’n patat lyk, maar hy’s baie bitter. Jy kry hom nie in onse wêreld, nie hier in die Richtersveld nie. Jy kry hom hier van Pella-goed, Postmasburg, daai wêreld langs kry jy die gammagoe. As jy hom nog kry, sal jy hom diep in die berge in kry. Daai het die mense mos nou gebruik in die vroeër jare.
“Jy sny hom op snytjies en dan maak jy hom droog en dan gebruik jy hom mos nou vir die nageboorte, om die baarmoeder skoon te maak. Jy gooi dit in kookwater – dit moet mos nou lekker bitter raak – dan drink mens dit mos nou na die geboorte.”
Klipsweet en dassiepis kon op dieselfde manier gebruik word, maar nie terwyl jy swanger is nie, waarsku Antie Trooi.
Vir te min borsmelk het Antie Trooi ook raad: “Party mammas het die tweede dag eers melk, so dis nie elke mamma wat met geboorte melk in sy borste het nie. Dan kan jy anys kook en dan laat jy haar ’n outydse groot beker vol daarvan drink. Ná die anys wat jy vir haar gelaat drink het, kan jy so ’n sterk beker moerkoffie vir haar ook laat drink. So warm-warm. Dan skiet die borste mos nou melk. Deeskedae gebruik ons mos nou Stoney, maar dis wat ons in die ou tyd gebruik het.”
Nes Ouma Katriena het Antie Trooi ook ’n storie oor baba’s wat met die helm gebore is.
“Die grootmense het mos gesê jy moet die helm droogmaak en dan fynmaal. Dan, as die kind so een jaar is, moet jy dit in ’n bietjie kookwater oplos en vir die baba ingee. Maar dan sê hulle dat die helm maak dat die kind vooruit enigiets sien en dan vertel hy vir jou. En dan’s dit iets gevaarliks. So ons het dit nie sommer gedoen nie – my ma het dit nie gedoen nie.”
Comments