top of page

Strykdag

In Wendy Anthonie se grootword-straat het amper al die anties dieselfde werksprogram gevolg. Dinsdae was strykdag en met hierdie rigiede reëls moes niemand bodder nie.




In my grootword-straat het amper al die anties dieselfde werksprogram gevolg.


Woensdae is die huis se Brasso gedoen, Donderdae is kaste reggepak en Vrydae is die voor-en agterstoep ge-rooi-Cobra polish vir die just-incase-visitors. Maandae het die wasbaddens rondgestaan - sommige seeblou van die Blouselwater. Dinsdae was strykdag. Met hierdie rigiede reëls moes niemand bodder nie.


My ma is nie meer in die rondte nie. Oor was-en-stryk-dae slaan ek dus sèlf die kitaar hier in my huis.


Ek hou nie van stryk nie, nog minder van stryk op ’n Karoo-somersdag wanneer die kwik àl opper styg soos ’n helium ballon. Ek moes ’n item uit nood stryk die ander dag. Met die dakwaaier aangeskakel en nà ’n glas yswater het ek my Russel Hobbs strykyster aangeskakel. Ek het met my vinger gevoel-voel, maar nà 7 jaar was daar niks! Nie ’n greintjie hitte nie.

Ek onthou toe van my ma se strykyster en net daar hardloop die nostalgie met my teen honderd myl per uur terug na my kleintyd en Mammie se Dinsdae-stryk ritueel.


Sy het eers elke stukkie wasgoed natgespat, opgerol soos worsrolletjies en dan styf langs mekaar ingepak in die groot sinkbad. Die primus is gepomp totdat hy bolwange het en dan is die swaar, yster strykyster op die lui pers vlam geplaas om te verhit.


Daar was klam doeke om haar kop en nek - pure treindrywer. Sy het kaalvoet gestaan op ’n klam goiingsak. Die askiestog-klein kombuisie moes vir haar soos ’n oond gevoel het. Ek sien hoe die sweetkol tussen haar blaaie groter kol - hoe haar arms onwillekeurig van haar lyf oplig nes ’n arend in vlug - die tssssk geluid van haar nat vinger teen die yster.


Middae was sy voos, maar my pa se hempde en broeke met hul gestyselde krae en mespuntnate het aan hangers voor die klerekas gehang.


Daar staan ek toe met ’n nuwe, blou Russell Hobbs terwyl die kassier die nodige waarborgstrokie, ensovoorts gereedkry. En ek wens Mammie kon ook ’n regte dakwaaier hê en die genot van ’n Russell Hobbs yster soos myne gesmaak het nie.


Die antie wat agter my in die ry staan: “Hoeeee, ek sil my man moet vra om ôk vi’ my ’n Jack Russelltjie te koop!”


0 comments

Related Posts

See All
bottom of page