top of page

Baai, Kaap!

Wendy Anthonie vertel van die vele gebruike van koeksoda, oftewel bicarb, insluitend ’n resep vir suursuiker (sherbet).




Wanneer ek ookal koeksoda opklits bruis die verlange na 'n tyd wat was...


Die woord, “bicarb” (bicarbonate of soda) het altyd met ’n lekker Amerikaanse inslag uit my Engelssprekende, Kapenaar-pa se mond gerol. Mammie weer, het dit laat klink soos die koebaaiwoorde van iemand wat oorsee vertrek vanaf die Kaapstad Internasionale Lughawe: “Baai, Kaap!”.


Daar was altyd boksies vol baaikaap in ons huis. Daddy het sy eie gehad. Hy het saans hiervan in sy skoene gestrooi, want mammie het altyd gekla van sy voete wat soos Gorgonzolakaas ruik.


Sondae het hy dit gesluk om sy konstitusie te overhaul, en wèèr was dit mammie: “Guh, môre issit skool, ma’ die teacher ruik nog soos ’n kantien op wiele!” Opgeklits met suiker en asyn was die konkoksie nèt so effektief soos Enos Fruit Salts.


Mammie se boksie was vir haar doekpoeding - ’n sinsbegogelinglekker affêre propvol dadels en so bruin soos riviermodder. Een maal per maand het sy die yskas daarmee uitgewas òf het sy ons skoolhemde se krae met ’n pasta van soda en water ingevryf en later uitgeborsel.


Mammie wag hulle in met haar hande op haar heupe soos ’n grênd suikerpot.

Dis pay-dag. Pa kom eers skemeraand saam met sy onderwyspelle oor die veld aangestap huistoe. Mammie wag hulle in met haar hande op haar heupe soos ’n grênd suikerpot. Sy begin praat in tale. Daddy se smile is windskeef. Hy hou ’n pakkie na haar uit, maar sy ignoreer dit.


Meneer Middleton lig sy hoed en sê: “Hi, Rachel. As prepossessing as always.”

“Man hou djou djawbreakers en djou joeniwaasitie gedagtes vi’ djouself!”

Ek probeer haar reghelp: “Dis ‘university’, Mammie!”

Haar oë flits blou soos ’n poeliesvên se ligte wanneer sy sê: “Man, hou djy ma’ net djou bek. Èk het djou nog laas leer praat!”


In die bruin kardoes op haar dressing table was nie baaikaap nie, maar ’n boksie Black Magic tjoklits.


Ek kan ook nie sonder my baaikaap nie. Behalwe die legio ander voordele maak ek deesdae fizzy sherbet vir my kleinkinders wat ek in waspapier cones sit.


Sherbet


Bestandele

  • 1 teelepel sitroensuur (citric acid) of wynsteensuur

  • 2 eetlepels versiersuiker

  • 3 eetlepels jellie kristalle (enige kleur of geur)

  • 1 teelepel koeksoda


Metode

Meng alles saam.



0 comments

Related Posts

See All
bottom of page