top of page

Stap-vir-Stap Roti’s

Updated: 2 days ago

Ons het so lekker arm grootgeword dat ons nie eers die armoede agtergekom het nie! Ek deel graag ons armmansresep vir heerlike roti’s en verduidelik hoe om die roti’s mooi rond te kry.


Ons het so lekker arm grootgeword dat ons nie eers die armoede agtergekom het nie! Mammie het immers haar eie sewe kinders en al die honger kinders in die buurt gevoed, asook haar twee susters se vyf kinders.


Sy’t gesê dat dit voel asof sy haar eie kinders slag, want elke hoender het ’n naam gehad – van Ou Juffrou tot Teenager en Duimpie.

Sy was ook ’n hoenderboer by uitstek en het tientalle hoenders aangehou. My mammie wou egter nooit van haar eie hoenders slag vir die pot nie, en so het sy met ander mense hoenders uitgeruil as sy wou slag. Sy’t gesê dat dit voel asof sy haar eie kinders slag, want elke hoender het ’n naam gehad – van Ou Juffrou tot Teenager en Duimpie.


So, behalwe vir eiers, groente, krummelpap, magou, dikmelk, vetkoek en tuisgebakte brood, het Mammie gesorg dat die kos op weeksdae altyd spesiaal is (of liewer, vir ons was dit baie lekker) – dahlkerrie, blikkiesviskerrie, koolbredie met gemmer, rissies, kerrieblare en komyn, voorgesit met roti of vetkoek.


Ek deel graag ons armmansresep vir roti’s – armmanskos, maar heerlik. Ek verduidelik ook hoe om die roti’s mooi rond te kry.



Stap-vir-Stap Roti’s

Anne Duiker-Mackay


Bestandele

  • 4 k (600 g) meelblom

  • 1 t (5 ml) sout

  • 1 t (5 ml) suiker

  • 2 e (30 ml) olie

  • 2 e (30 ml) botter, margarien of vet

  • 2 k (500 ml) kookwater (kokend warm)

  • Ekstra olie en botter, om die roti’s mee te bestryk


Metode

1. Meng drie koppies meelblom en die res van die droë bestanddele in ’n skottel – meng goed deur.


2. Meng die olie en botter/vet/margarien met die kookwater en werk dit in die meelmengsel in met ’n lepel (die deeg is baie warm, so pasop vir brand). Laat effens afkoel en werk die res van die meel in. Voeg nog meel of water by indien nodig om ’n sagte, hanteerbare deeg te vorm.


3. Knie die deeg vir ’n paar minute om lug in te voer. Plaas vir ’n ruk eenkant (of in die yskas) om lekker af te koel.


4. Verdeel die deeg in omtrent so 10 tot 12 stukke – vorm mooi ronde bolletjies en druk plat.




5. Om jou roti’s mooi rond te kry, plaas ’n klein hopie meel op ’n skoon, gladde oppervlak en plaas ’n bolletjie deeg daarop. Knyp ’n bietjie meelblom bymekaar met al jou vingers, en plaas dit bo-op die degie.



6. Begin dit uitrol met ’n deegroller. Die truuk is om liggies te rol met albei hande, maar effens harder te druk met die een hand. Die deegbolletjie sal self ’n sirkel vorm, en met oefening baie mooi rond uitkom.



7. Maak ’n swaarboompan of tawa goed warm en draai die hitte af tot matig. Plaas ’n roti in die warm pan/tawa en bak totdat blasies vorm.


8. Bestryk dan met ’n mengsel van warm olie en gesmelte botter en draai om. Bak die ander kant en bestryk ook met die botter-oliemengsel en bak totdat die blasies mooi goudbruin vertoon en die roti gaar is (so 2 minute aan elke kant).




9. Geniet dit met ’n lekker kerrie en tamatiesambal! Die roti is skilferig en lig, nie so ryk nie (omdat daar nie so baie botter in is nie), en dus baie goed vir diegene wat kalorieë tel.



0 comments

Related Posts

See All
bottom of page