Vroedvroue is deel van baie van ons se komvandaan. Ouma Magrietha Vries van Steinkopf in die Noord-Kaap se Richtersveld het haar storie aan ons vertel.
Geskryf deur: Leanne Feris. Foto: Loretta Feris
Lees Nog Vroedvroue Se Stories
Ouma Magrietha Vries, Steinkopf
Toe ek vir Ouma Magrietha aanspreek as Antie, laat sy my baie vinnig weet dat ek na regte vir haar Ouma moet sê. Dit is soos dit hoort, siende dat sy al 85 is, en ek korrigeer myself.
Hoewel sy nooit self ’n vroedvrou was nie, is Ouma Magrietha ’n skatkis van kennis wat sy opgedoen het deur te kyk wat haar ouma, ma en suster doen.
“Dit wat ek weet, het ek by my ouma geleer. My ouma – sy was ’n Nama-vrou – was ’n smeerder en ’n vroedvrou. Die mense het baie aan haar geglo. Wanneer hulle swanger is, moet sy vir hulle smeer. En as die kind nie reg lê nie, dan help sy met die smeer om die kind reg te bring.
“Ek het nie notisie geneem van dit nie, want Nama kan ek vergeheel en al nie verstaan en praat nie. En dis waar ons die probleem gemaak het, want ons, die kind se kinders, het by haar gebly en skoolgegaan. My ma en my twee ooms het lekker Nama gepraat.
“As die nageboorte nie wil kom nie, dan het my ouma die kaf van die koring wat klaar getrap is gevat en dan gooi sy hom in ’n blik in. Dan gooi sy kookwater daarin en dan moet die vrou daarop sit en na ’n tyd kom die nageboorte.”
Amper al die vroedvroue met wie ons gepraat het, ken hierdie tegniek. Sommiges het net koerantpapier in plaas van kaf gebruik.
Ouma Magrietha vertel van die keer wat ’n verpleegster nie ’n vrou kon help met die nageboorte nie: “Toe gebeur dit met een van die vrouens van wie [die verpleegster] die baba gevang het. Toe die nageboorte nie kom nie, toe gaan sy huis toe. Toe’t my ouma daardie tyd daai vrou gehelp en toe [die verpleegster] terug kom, toe wou sy weet wat my ouma gemaak het. Toe sê my ouma vir haar jy’t gaan leer en ek is met dit gebore.”
Soos almal, vertel sy ook hoe goed Jantjie-bêrend, ’n kruiemedisyne, is. Ek en Loretta het nog nooit daarvan gehoor nie, maar agterna vind ons uit dat dit in die Richtersveld die streeksnaam vir kankerbossie is.
“Jantjie-bêrend is mos eintlik die bitterbos wat ons het. Maar my kêrelkind sê hy glo mos nie in ’n bos wat hier in ’n tuin geplant raak nie. Hy moet in die veld wees.
“En daai dassiepis en klipsweet – jy kook hulle en dan gooi jy hulle af. En dan drink jy – soos as jy nou wil maandstonde kry, en jy’t baie pyn, daai dassiepis en daai klipsweet – jy kan hulle net drink dan’s als oor. Dit help vir die pyn. Dan voel jy soos dit moet wees en die pyn is ook weg. Só het ons aangegaan. En vieroulap – jy kan hom ’n salf maak ook. Daai is hier volop.”
Sy was nou wel nie ’n smeer-ouma nie, maar Ouma Magrietha bid vir dié wat dit nodig het. Sy vertel hoe ’n familielid haar gevra het om haar kind in te smeer met ’n gebedsalf en vir hom te bid, want die kind kon nie slaap nie.
“Toe’t sy die kind gebring en ek het hom hier van die kop af gesmeer. En soos ek daar smeer, so bid ek mos nou. En dan het hy stil geword – hy’t geskree, baie geskree – maar ek smeer en bid vir hom toe het hy stil geraak. Die anderdagoggend vra ek sy ma hoe’t die kind geslaap. Toe sê sy baie goed. En nog altyd.”
Geskryf in 2021. Ouma Magrietha is sedertdien oorlede. Rus in vrede, Ouma Magrietha.
Комментарии